Hoof

Een van my gunsteling aanhalings kom uit die mond van Madonna.  Sy sê dit maak glad nie saak wie jy is, wat jy in die verlede gedoen het of waar jy vandaan kom nie.  Al wat belangrik is, is dat jy NOU werk om ‘n beter weergawe van JOUSELF te wees, tot die uiteindelike voordeel van die gemeenskap.

Iets wat uitstaan as jy die Schoonspruit-familie die eerste keer beleef het, is die gemeensaamheid.  Hoe trots Schoonspruiters op mekaar is, en hoe daar vir elke individu tog plek in die groep is, en mekaar voortdurend aanspoor tot hoër hoogtes.

By Schoonspruit tel elke leerder.  Elkeen se besonderse gawes en talente word waardeer en geslyp.  Hier droom ons groot en leer ons werk, sodat drome,’n realiteit kan word.

Ons waardeer individualiteit.  SHS se hoogs gekwalifiseerde personeelkorps is pasaangeërs op hul onderskeie diverse studievelde.  Hulle bewys telke male dat om die spreekwoordelike ekstra myl te stap, ‘n gegewe is.

Schoonie-leerders leer om die fyn balans tussen akademie, kultuur, en deelname op die sport- en op sosiale gebied te bemeester.  Hier word leiers gekweek.  Graad 8-Kuikens groei en word arende wat in graad 12 met sterk vlerke hul toekoms tegemoet vlieg.

Tussen ons blou hekke, is ‘n spesiale plek, net vir jou.

Mag jou individualiteit hier deel van ons groep word, hier waar ons WERK DIEN en in oorvloed LEWE .

Mev. A. Swart - Waarnemende Hoof